Video: Damvakansie het tragiese einde

Adriaan Barkhuizen (49) is dood kort nadat hy uit die wrak gesny is. Sy onderlyf was heeltemal vergruis.
Adriaan Barkhuizen (49) is dood kort nadat hy uit die wrak gesny is. Sy onderlyf was heeltemal vergruis.

Adriaan Barkhuizen (49) was oppad na sy huis in Ermelo met ‘n vrag kamptoerusting van die dam af toe ‘n bakkie trompop met sy Kia trokkie gebots het.

Toe hy by die dam vertrek, het hy aan sy vrou Mariaan, wat by die dam vir hom gewag om die tweede vrag kamptoerusting en die boot te kom haal, gesê “Koebaai! Sien julle nou-nou!”

Die ongeluk het tussen 10:00 en 11:00 op 30 Januarie agt kilometer buite Ermelo op die Hendrina pad gebeur.

‘n Bakkie, met drie insittendes, het volgens ooggetuies skielik uitgeswaai en in die pad van ‘n Hyundai trokkie, waarin mnr. Barkhuizen, sy kleindogter Mickhyla (4) en Chenice Bosman gery het.

Mnr. Barkhuizen was in die wrak vasgekeer en moes uitgesny word. Hy het nog geleef toe nooddienste op die toneel opdaag, maar het kort nadat hy uit die wrak bevry is, aan sy wonde beswyk.

Michyla het harsingskudding opgedoen en haar arm gebreek, terwyl me. Bosman haar sleutelbeen gebreek het.

Die bestuurder van die bakkie is opslag dood en een van die insittendes is kort daarna oorlede die ander passasier het oorleef. Dit blyk dat die insittendes van die bakkie kontrakteur werk op ‘n myn gedoen het. Hul identiteite was nie teen druktyd bekend nie.

Mnr. Barkhuizen se vrou sê dat sy by die dam was toe iemand haar man se werkgewer, wat saam met hulle gekamp het, gebel en van die ongeluk vertel het.

Sy sê dat hulle hul na die toneel gehaas het maar dat net die wrakke nog daar gestaan het.

“Ek is dadelik hospitaal toe want Mickhyla was stoksiel alleen. Daarna is ek na die lykshuis toe om te kyk of dit regtig hy is. Ek kan dit nou nog nie glo nie, dit was nie ‘n mooi prentjie om te sien nie.”

Haar vierjarige kleindogter moes toekyk hoe haar oupa in die wrak vassit.

“Sy het alles gesien. Ek het mooi vir haar verduidelik wat gebeur het en sy weet waar haar Oupie nou is.”

Mev. Barkhuizen beskryf haar man as iemand wat lief was vir visvang, musiek en dans.

“Hy het ‘n vol lewe gehad. Hy was hardwerkend met ‘n sagte hart. In my lewe sal ek nooit weer so ‘n persoon kry nie. Ons was 22 jaar saam.”

Haar laaste herinnering van haar man is ‘n video wat sy van hom geneem het waar hy op ‘n band agter ‘n boot in die Middelburgdam gesleep word.

Die Barkhuizen egpaar het vir ses jaar in Middelburg gewoon voordat hulle bykans ses jaar gelede Ermelo toe verhuis het.

Mnr. Barkhuizen se verassingsdiens vind vandag (Vrydag) vanuit die Lede in Christus kerk in Ermelo om 14:00 plaas. Enigiemand wat met die familie in kontak wil kom kan mev. Barkhuizen bel by 082 223 7175.

 

  AUTHOR
Jana Boshoff
Journalist

Latest News

COMMENTS

ctpmiddelburgagrieco_highveldgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top