Video: Duisende liters na Vrystaat aangery

Me. Mandy Pretorius sit tussen die honderde houers met duisende liters water wat onder haar afdak en haar hele oprit volstaan. Feed A Child het Maandag reeds drie en ’n half ton se houers water opgelaai, wat in Senekal (Vrystaat) versprei sal word.
Me. Mandy Pretorius sit tussen die honderde houers met duisende liters water wat onder haar afdak en haar hele oprit volstaan. Feed A Child het Maandag reeds drie en ’n half ton se houers water opgelaai, wat in Senekal (Vrystaat) versprei sal word.

Ons dorp het weereens nie teleur gestel nie! Toe daar gevra word, het die water ingestroom en tonne water sal Dinsdag en Woensdag in Senekal (Vrystaat) afgelewer word waar die mense nie eers meer drinkwater het nie.

Me. Pretorius sê “ek het nie hiervoor gevra nie. Iemand het net gevra of ek vir hulle stoorplek het nie en ek het ja gesê. Ek het nie verwag dat dit só groot gaan word nie! Dit kon Middelburg gewees het wat sonder water kon wees. Hiermee word ons almal weer teruggebring op ons knieë!”

Die hele idee om water in te samel vir die droogtegeteisderde gebiede, het sy ontstaan gehad by me. Caroline van Saasen (van die Middelburg Kamer van Koophandel) wat ’n visoen gehad het om mense met water te help.

Sy het nie presies uitgebrei oor die visoen wat sy gehad het nie en net gesê “dat almal oral gepraat het van die droogte en die foto’s van die diere wat gevrek het van die dors wat my baie ontstel het. Ek was maar net gehoorsaam aan Hom wat dit op my hart gedruk het om iets te doen daaraan.

“Elke dorp neem sy eie inisiatief en help mekaar. Dit is een groot spanpoging van meer as 18 500 mense landwyd!”

Me. Jacky Botha het van me. Van Saasen se visioen gehoor en besef dat hulle ’n stoorplek moet kry, sou hulle die gemeenskap vir hulp vra. Sy het geweet dat me. Pretorius ’n klere-, kos- en sopprojek vanaf haar huis bedryf en besef dat almal weet van haar. Dit sou die maklikste plek wees.

Teen Donderdag vroegaand kon hulle die bottels water nog tel en was daar 2 537liter. Die bottels het steeds ingestroom tot 23:45!

Teen Vrydag het die voertuie tot 13 op ’n slag opgedaag en in toue voor haar hekke in Zuidstraat gestaan om water af te laai.

“Nie eers die reën het die mense afgeskrik nie en hulle het in die gietende reën houers afgelaai!”

Sondag tot 22:15 is nog water afgelaai en Maandag kort voor die eerste vrag van drie en ’n half ton deur Feed A Child se span gelaai is, het nóg bottels water opgedaag.

Van die besighede wat water verkoop, het sedert die projek begin het, spesiale aanbiedinge op hul water gehad en van hulle het selfs te min houers gehad soos die mense die projek ondersteun het.

Teen Sondag is daar ’n Facebookboodskap gestuur deur motorfietsryers, wat gesê het dat daar nóg ’n trok Dinsdag sal opdaag om water te laai.

Hulle het die hele gemeenskap uitgedaag om vanaf 15:00 Maandag (gister) water in enige houers te vat tot by die Midwater Sentrum waar ’n trok dit sal oplaai en die groep met hul motorfietse in ’n konvooi saam met die trok sal ry tot by Zuidstraat 42.

Die Lighuis gemeente (Pongolastraat) het hul gemeentelede ook gevra om Maandag vanaf 08:00-16:00 water te bring, wat by me. Pretorius afgelaai sou word. Me. Pretorius het gesê dat die eerste water wat hulle aanstuur, by die ouetehuis in Senekal afgelewer gaan word, “sodat die bejaardes darem net ’n bietjie water kan drink.”

Corpus Christi was nog ’n gemeente wat Sondag ’n beroep op sy gemeentelede gedoen het om water te skenk.

Me. Judy van Deventer (van Feed A Child) het gesê dat sy “nie kan wag om te sien hoe dit gaan lyk as die diere hul dors met hierdie water les nie!”

• Weens die duisende liters water wat by me. Pretorius se huis afgegee word, was daar teen Maandag nie meer spasie om alles te stoor nie.

Die span van Executive Risk Control het aangebied dat die water by hul store afgelewer word in Celciusstraat 22 (Industriële gebied) vanaf 08:00 Dinsdag (vandag). Daar sal 24 uur ’n persoon beskikbaar wees om die water te ontvang.

• Mpumalanga Pumps het aangebied om Dinsdagoggend met ’n agt ton trok water te laai en te gaan aflewer. Daar word egter nóg trokke benodig om water aan te ry Vrystaat toe. “As iemand bereid sal wees om ’n trok te gee en iemand anders dalk kan help met diesel, dan kan ons die water by die regte plekke kry!” het me. Pretorius gepleit.

Persone wat moontlik nog kan help, kan me. Pretorius bel by 083 591 0011.

  AUTHOR
Daleen Naude
Journalist

Latest News

COMMENTS

ctpmiddelburgagrieco_highveldgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Die rooi wurg en stukkende krapmerk is duidelik in haar nek sigbaar, waar ’n sekuriteitswag haar weerskante van haar gorrel beetgekry het.
Video: Dokter by hospitaal aangerand