update


Opvolg: Storm om kaptein se kop kring uit

Kapt. Awie Geldenhuys.
Kapt. Awie Geldenhuys.

Van die voorvalle dateer so ver terug as 1998.

• ‘n Voormalige kollega, wat saam met hom op skofte gewerk het in Secunda (wat op hierdie stadium anoniem wil bly), vertel dat hulle in 1998 een aand uitgeroep is na ‘n huis in Kriel waar ‘n jong meisie gedreig het om selfmoord te pleeg.

Hulle is die huis in, waar die kollega by die familie in die sitkamer gesit het en Geldenhuys kamer toe is, want die meisie wou nie uit die kamer kom nie.

Volgens die polisieman was kapt. Geldenhuys (hy het op daardie stadium ‘n laer rang gehad) alleen na haar kamer en het ‘n ruk daar vertoef. Hy het later uitgekom, waarop die twee polisielede gery het.

Die volgende dag het die meisie en haar ouers ‘n saak onder die seksuele misdrywe wet geopen.

• Die polisieman onthou ook ‘n voorval in daardie selfde jaar waar ‘n Kleurlingvrou na die polisiestasie gebring is “omdat sy dronk op straat was.”

Kapt. Geldenhuys het aangebied om haar huis toe te vat. Die volgende dag het die vrou klagtes van seksuele aard teen hom aanhangig gemaak.

Beide klagtes is later teen hom teruggetrek.

• ‘n Vrou beweer dat kapt. Geldenhuys haar verkrag het toe sy 17 jaar oud was, terwyl hy gestasioneer was in Secunda. Haar bewering is dat hy vir haar sou gesê het dat sy ‘n entjie saam met hulle moet gaan ry “om vir ‘n rukkie ‘n kykie te kry in die lewe van ‘n polisieman.”

Volgens haar het die beweerde verkragting plaasgevind by die eendedammetjies in Secunda. Sy het die beweerde voorval aangemeld by ‘n lid van die destydse KBE (Kinderbeskermingseenheid), maar dat die lid dit nie ernstig opgeneem het nie en gesê het: “dat ons nooit weer hieroor sal praat nie.”

• Nog ‘n vrou sê sy het in 2000 by ‘n nagklub in Trichardt (sustersdorp van Secunda) gewerk en kapt. Geldenhuys “het altyd in sy polisie bakkie verby gery het en my talle kere in sy voertuig ingeroep. Hy was altyd vriendelik en behulpsaam en gekyk dat ek veilig by die huis kom, tot op ‘n dag wat hy my gevra het om saam met hom te ry.”

Sy beweer dat hy haar gevra het of sy saam met hom ecstasy wil gebruik en het haar ook probeer soen. Volgens haar is hy na ‘n ongelukstoneel uitgeroep op die Evanderpad waar hy haar uit die bakkie kom haal het om te kyk na ‘n lyk van ‘n vrou. “Dit was ‘n walglike toneel en ek kon nie glo dat hy so iets vir my wil wys nie.” Sy kon “die res van die aand nie in detail onthou nie, maar ek het hom van daardie dag af vermy.”

• In 2007 is drie vroue na die Middelburg Polisiestasie waar hulle verklarings afgelê het – slegs een klagte is geregistreer. Dié vrou is intussen oorsee.

Een van die ander twee vroue wat die dag in Oktober 2007 saam met haar verklarings afgelê het, sê “sy het nooit weer van die polisie gehoor nie.”

Sy beweer dat sy met kapt. Geldenhuys uitgegaan het en dat hy vir haar ‘n pilletjie gegee het. Die nag het sy beneweld wakker geword “met hom op my”, maar sê dat sy weens die lam gevoel in haar ledemate “niks kon doen nie.”

Sy was woedend en het hom gekonfronteer.

‘n Paar dae later het haar vriendin haar een oggend vertel dat Geldenhuys haar die vorige aand “verkrag” het. Haar jonger sussie het ook beweer dat Geldenhuys haar “betas” het.

Die vroue is dadelik polisiestasie toe, waar ‘n verkragtingsaak geopen is. “Al drie ons verklarings is gevat, maar soos ek verstaan, was daar net één klagte, dié van die ander vrou, oopgemaak en sy is oorsee!”

• ‘n Vrou sê in daardie selfde jaar (2007) “het hy vir my ‘n pilletjie gegee en gesê ek moet dit drink sodat ek nie babelas sal wees die volgende dag nie.” Sy was toe 17 jaar oud.

Sy beweer sy het later wakker geword “op ‘n bedjie met Barbie-motiewe op.”

Die volgende dag het sy vir haar vriende en vriendinne van die voorval vertel, maar hulle wou haar nie glo nie.

“Eers toe hulle nou die berigte van die meisie op die sypaadjie in die Observer gelees het, het hulle my ná al die jare geglo!”

Sy en haar ouers het destyds besluit om nie ‘n saak te maak nie, aangesien sy so jonk was en by ‘n kuierplek gedrink het, en ook omdat sy nie geweet het wat met haar gebeur het nie en gedink het sy is die enigste persoon met wie dit gebeur het.

• In 2011 open twee vroue van Nelspruit klagtes van onder meer verkragting en onsedelike aanranding. Geldenhuys is skuldig bevind aan wangedrag en ontslaan. Tydens arbitrasie is hy weer heraangestel.

• In 2013 ontmoet ‘n vrou hom by Sideline (die kuierplek het intussen toegemaak) en ry saam met hom om sigarette te gaan koop.

Volgens haar het hy by sy huis gestop om warm klere te kry en het haar iets gegee om te drink. Sy onthou dat sy “lam gevoel” het nadat sy die drankie gedrink het, dat hy haar op ‘n bank laat lê het “en teen haar wil sy tong in haar mond gedruk het”.

Sy beweer sy het die volgende oggend deurmekaar in sy bakkie wakker geword. Een van hul vriende het haar in die voertuig opgemerk en uitgehelp.

“Ek het nie ‘n saak gemaak nie, want ek het nie geweet wat met my gebeur het nie en het gedink ek was die enigste waarmee dit gebeur het.”

• Op 11 Februarie is ‘n jong meisie op ‘n sypaadjie gevind nadat sy die vorige nag by Amazons Restaurant gekuier en kapt.

Geldenhuys haar op sy rug uit die kuierplek gedra het. Kapt. Geldenhuys het later erken dat hy haar daar afgelaai het.

Sy was vol bloed toe sy gekry is. Haar ken en hande was stukkend en sy het ‘n blou merk aan haar arm gehad. Sy het later gesê dat kapt. Geldenhuys haar na ‘n huis geneem het, waar ‘n vrou vir haar ‘n pilletjie met water gegee het. Van kort daarna af kan sy “niks onthou nie.”

• Kapt. Geldenhuys is verlede week gevra om kommentaar te lewer oor die bewerings, maar hy wou nie eers hoor wat die bewerings was nie en wou nie verdere kommentaar lewer nie.

Hierdie week het hy wéér gesê dat hy nie kommentaar wil lewer nie en het bygevoeg, “miskien later.”

Lees vorige stories hier:

(Opvolg) Video: Vroue praat oor polisie kaptein

Kaptein het meisie afgelaai

Video: Ondersoek na meisie langs pad

Vrou langs pad gekry

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

  AUTHOR
Daleen Naude
Journalist

Latest News

COMMENTS

ctpmiddelburgagrieco_highveldgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top