My Beurt: Johann Gresse

Darem het ons gecarbo-load, maar dit was net omdat dit lekker was. Ek vermoed dat ouens wat pap en wors geëet het, steeds beter gevaar het.

Weens al die padwerke, het ons drafgroep besluit om Saterdagoggend 04:00 die Stoffbergpad te volg en dan net spontaan op ‘n grondpad links te draai in die rigting van Loskopdam. Die plan het gewerk en ten spyte van ‘n paar benoude hase, ‘n bosvark (wat ek verkeerdelik as ‘n ietermago geïdentifiseer het) en ‘n reuse slaggat of twee, het ons sonder enige noemenswaardige stampe en stote by die Damwal-wegspring opgedaag.

Die 10de Wild Challenge was so gewild soos altyd en tussendeur die spitsverkeer wat meer as 1 500 drawwers veroorsaak, het ons redelik vinnig die pad na die middel van die veld oopgestrompel.

As die enigste veteraan – ek het al twee keer vantevore die halfmarathon gedoen – het ek geweet dat dinge aansienlik moeiliker begin raak na Laerskool Staatspresident C.R. Swart se waterpunt.

Thaba Diafela en Giraffe’s Neck is fisies onmoontlik om uit te hardloop, al sê jou running app of jou kondisioneringsafrigter ook wat. En as jy dit uitstap, sien jy die natuurskoon sommer beter as die deelnemers wat dit drawwend aanpak.

Na die moordende-tog-lekker-opdraande, word dinge makliker en die gereelde waterpunte sorg dat dehidrasie nooit ‘n faktor is nie.

Het onthou hoe ‘n slim mens eens vir my gesê het om na die 16 km-kerf gereeld Coke te drink en aan iets te peusel. Het dus by elke waterpunt ‘n koppie Coke afgesluk (stappend, want my tande is klaarblyklik te skeef om daai koppie drawwend te hanteer) en jelly babies en Bar Ones tog te dankbaar in my sak geprop.

Waarskuwing aan ander drawwers: moet nooit van daai lang jelly babies eet nie. Na 17 kilometer is jou kouvaardighede nie meer wat dit was nie en ek het waardevolle sekondes gemors omdat ek eers moes stop om klaar te verstik.

Forever Hill net voor die eindpunt was weer eens hoërgraad, maar die toeskouers sorg dat jy goed hardloop – jy weet immers nie of Olivia Wilde of Minki tussen die skare is nie. En eerste indrukke is mos belangrik.

Vir ‘n paar ouens wat eintlik nie veel van draf weet nie, was ons tye glad nie te sleg nie. Trouens, ek is heel trots daarop. Maar dis nie wat ek eendag vir my kleinkinders gaan vertel nie.

O nee, hulle gaan die storie hoor hoe Oupa homself gepace het, want sy oefenprogram het gesê sy hartklop mag nie ‘n sekere aantal kloppe per minuut oorskry nie. En buitendien het ek mos die Loskop as voorbereiding vir Woensdagaand se SAVF-pretdraf gebruik. Ek het immers ‘n podiumplek in die pretdraf gesoek.

Dit klink net soveel cooler as om te sê jy het die Loskop vierkantig in die oë gekyk, dit geniet, jou beste gelewer en stééds stadiger as vyf minute per kilometer gehardloop. Of hoe?

  AUTHOR
Johann Gresse
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Truck on fire