My beurt: Jana Boshoff

Die vrou wat toe ek ‘n klein dogtertjie was, my hare in ‘n Franse vlegsel gevleg het en geduldig heen en weer agter my aangestap het van ons bosveldhuis rivier toe en terug, is dodelik siek. Net ‘n paar maande gelede, was sy nog blakend gesond, nou is sy dodelik siek.

Sy bly in Worcester in die Kaap. Bietjie ver om vinnig te gaan kuier. Ons gesels maar per telefoon. Mens weet nie altyd wat om te sê of wanneer die beste tyd is om te gesels nie. Ek het gisteraand besluit enige tyd is die beste tyd, en het toe sommer half 11 die nag ‘n sentimentele stukkie onthou met haar gedeel.

Dit is die snaaksste gevoel om te hoor dat iemand besig is om dood te gaan.

Wie besluit dit? Wie besluit wanneer is iemand besig om dood te gaan? En met al die wonderlike tegnologie tot die slim mensdom se beskikking, hoekom kan niemand dan iets daaraan doen nie?

Blomme gaan dood. Troeteldiere gaan dood. Mense kan mos nie sommer net so voor jou oë doodgaan nie, verwelk soos die halsstarrige orgideë in my woonkamer wat weier om nog ‘n groen blaar uit te stoot vandat hy die derde keer geblom het?

As iemand in ‘n ongeluk sterf, dan verstaan ek dit – dis vinnig en dis ‘n ongeluk. As iemand van komplikasies in die hospitaal dood gaan, dan verstaan ek dit – dis ‘n fout of iets wat verkeerd gelees of te laat agter gekom is. As iemand van ouderdom dood gaan dan sê ons altyd hy het ‘n ‘ryk’ lewe gehad of hy is op die ‘rype ouderdom’ van soveel jaar oorlede.

Maar hoe kyk jy hoe iemand dood gaan, omdat daar niks meer is wat die medici kan doen nie? Hoe lank is ‘weke’ nou eintlik? Wat doen mens in daai ‘weke’ wat jy hulpeloos moet staan en toekyk hoe een van die takke in jou stamboom verdor?

Hoe oud moet iemand wees voordat jy kan sê hy is ‘ryp’ in ouderdom? ‘n Ryk lewe – dit het sy gehad, het sy nogsteeds as jy kyk na die breë glimlag op die foto’s vanuit haar hospitaalbed.

Ryk, as jy kyk na haar twee pragtige kinders, wat eintlik nog te jonk is om die lewe alleen, sonder ma, aan te durf, maar waarop sy so duidelike stempel afgedruk het dat jy nie anders kan as om te weet dat hulle ‘heel’ anderkant sal uitkom nie.

My hart is seer oor jou. Maar my hart is rustig oor jou. Soos die Bybelse bome, herinner jy my aan ‘n goeie olyfboom. Aan die vrugte wat jy dra kan mens duidelik sien waar jou wortels geanker is.

Sal dit nie lekker wees om oor ‘n jaar oor my absurde berig te giggel, indien jy weer blakend gesond sou word nie? Mens kan nie help om tog daarvoor te hoop nie.

Tot dan sal ek in stille kontras worstel, oor ons mense se seer en die heerlikheid van die Heer.

My Beurt: Tobie van den Beurt

  AUTHOR
Jana Boshoff
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Neem eie lewe na pa se verjaardag