My Beurt: Jana Boshoff

Vrouens los hul mans vir gespierde katelknape en ou getroude mans los mamma agter vir ‘n heelwat fermer en groener blaartjie. ‘n Blaartjie wat by die gimnasium rondgefladder het met haar kortste en styfste Nike uitrusting aan.

Kyk ontrouheid kom saam met die mensdom van die Bybel se tyd af. In my kinderdae was daar groot drama toe dit uitkom dat ‘n kerk se hoofouderling en die orreliste sommer die kat by die kerk in die donker geknyp het. Dit was so erg dat die orreliste se man die ouderling met ‘n haelgeweer tot by die polisiestasie gejaag het.

Maar nou voel dit behoorlik asof die kat in die gimnasium vrygelaat is. Daar is deesdae so baie skelm (en nie so skelm) verhoudings aan die gang dat die skinnerbekke nie weet waar om te vat en waar om te los nie. Wat my opval is dat die meeste stories wat my ore bereik het, in die gim afskop.

Ek hoor van vroue wat blink gegrimeer by die gimnasium inklok net om twee minute later weer uit te stap, hierdie keer met ‘n gespierde skim kort op haar hakke. Of stories van brawer kansvatters wat glad nie eens deur die gimnasium se deure stap nie maar sommer in die parkeerarea oorklim in die skelmpie se kar om 40 minute later weer agter sy eie stuurwiel in te skuif. Papnat gesweet, maar defnitief nie van as gevolg van ‘n rondte op die super circuit nie.

Daar is veral een katelknaap wat al in ‘n paar verskillende bakke slaai gekrap het.

My man dreig my ook nou al dat hy gaan begin gim as ek hom opdraende oor iets gee. (As jy kyk na ons twee se pokkellyfies sal ‘n daaglikse besoek aan die gim regtig nie skade doen nie.)

Ek verstaan dat met vandag se ‘groter, beter, vinniger’ leefstyl daar toenemende druk is om beter te lyk, gesonder te eet, ‘n vinniger kar te ry en mooier aan te trek. Sosiale media en selfies maak dit makliker vir ons om soos ‘n trop skape die nuutste gier te identifiseer en na te jaag. Come hell or high water, een van die trop wil ons wees.

In die dolle gejaag om onsself gelukkig te oefen, te werk of aan te trek, word ons net al hoe meer ongelukkig. Vernietig ons nie net ons eie geluk nie, maar ook die van kinders en families.

As jy praat dan hoor jy ‘Ons het uitmekaar gegroei,’ of ‘Dit was net nie meer dieselfde soos aan die begin nie’. Nouja, oor groei kan ek lekker saam praat. Ek het in die laaste ses of sewe jaar meer gegroei as in die vorige 25 jaar. Jy bepaal waarheen jy groei. Jy groei in die rigting van die dinge waarmee jy jou bemoei. So bemoei jouself met jou maat, die een waaraan jy voor God trou beloof het, en jy sal verbaas wees hoe vinnig julle weer na mekaar toe groei.

Hou op om so met jouself behep te wees. Word bietjie met jou familie behep. Spandeer dieselfde tyd en met dieselfde inspanning as wat jy daai super circuit deurdraf en jy sal verbaas wees oor die uitkoms.

En as jy gimnasium toe gaan, gaan om te oefen…met gewigte.

  AUTHOR
Jana Boshoff
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Prokureur weer in hof