Flopsport

•Uit op ’n leeujag – ons is nie bang nie! Ontspan verlede week op ’n leeuplaas. Een yslike leeu mannetjie en twee wyfies. So stap almal verby die ou maanhaar, hy knip nie ’n oog nie. Stap verby met my Blou Bul verjaardaggeskenkhemp en leeu wil net baklei. (Wag-wag ou, ons baklei eers oor twee weke op Loftus).

•Met ’n skoonseun wat fanaties Leeu is, gaan dit swaar om die kleinkinders Blou Bul te oriënteer. Na drie dae was die blouwildebeeste darem al bloubulbeeste.

•Op vier jaar weet hulle ook al van kwotas, want die swartwitpense het swartwitbeeste geword.

•Wat is die toppunt van angs? Wanneer jy jou seun na ’n toets toe moet vat en net voor jy ry is die toetskaartjies skoonveld. Het geweet om nie die twee kaartjies in die dagboek te sit nie, maar wou nie luister vir daai ou stemmetjie nie. Woon ’n kongres in Sandton by en los alle boeke by die hotel se ontvangs. Saterdagoggend is daar ’n vreemde dagboek tussen al die ander literatuur, een wat behoort aan iemand wat kontakte het met Cyril Ramaphosa en president Zuma se vroue. Telefoonnommers en paspoorte de lot, maar geen toetskaartjies nie. Doodsweet slaan jou uit. Nie omdat jy met iemand se dagboek sit met hoë kontakte nie, maar sonder die toetskaartjies. Vele gebedjies later word die regte dagboek en kaartjies opgespoor.

•Vra ’n koerant Saterdagoggend: “Hoe skerp is julle horings Bokke?” Nee, die Bokke hettie horings nie.

•Ma kon dit nie verstaan nie, later seker jou vrou en kinders ook nie. Liefde vir rugby. Dit was in die sewentigerjare. Daar was nie televisie nie, net radio. So luister jy die All Blacks teen die Springbokke. Manne soos Mof Myburgh, Piston van Wyk, Tiny Neethling, Piet Greyling, Joggie Jansen, Gert Muller, Frik du Preez, Mannetjies Roux, Dawie de Villiers (as kaptein), Jan Ellis, Piet Visagie en Syd Nomis. Vir die All Blacks was daar Sid Going, Bryan Williams, Colin Meads. Rustyd speel jy All Blacks teen die Bokke, sommer so op jou eie, en die Bokke wen elke keer. Helde! En nou?

•Die jaar daarna was dit die Franse en Gerhard Viviers kon die name so lekker uitspreek: Claude Spanghero, Jean-Claude Skrela, Andre Dubertrand.

•Dankie tog daar is krieket en hulle wen.

•Geen mens kan langer as sewe jaar se droogte beleef nie. Dis nou tyd vir die Bul om vetgevoer uit sy hok te kom en daai Visvoete terug te jaag Kaap toe. Ag, en ons sal nie omgee wie in Bloem wen nie – Leeu of Tjieta.

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Steval Pumas look to fly against the Falcons