’n Goddelike waarskuwing

Internet image.

’n Boodskapper van God:

Op Woensdag, 1 Februarie 2017, het God vir my gesê, Hy is keelvol en woedend oor dit wat in Middelburg en die omgewing plaasvind en dat Hy Sy toorn oor die mense gaan gebied en dat ek hulle indringend moet waarsku!

Die volgende aanklagte het die Heilige Gees Sondag, 5 Februarie, aan my gedikteer:

“Maar as Ek met jou spreek, sal Ek jou mond open, en jy moet aan hulle sê: So spreek die Here, Here: Wie hoor, laat hom hoor; en wie dit nalaat, laat hom dit nalaat; want hulle is wederstrewig (hardkoppig)” Esg 3:27.

Sê aan die inwoners van Middelburg en omgewing: Ek is keelvol vir hulle, My toornige beker loop oor (Jes 1:2-7), genoeg is genoeg!

Net te veel is julle gewaarsku deur My ware boodskappers, ook deur die Observer. Net te veel het julle, julle rug op My gedraai, en gesê: “Ons weier, ons sal nie, ons wil dit nie hoor nie!” (Jer. 6:16-17).

My toorn en My oordele gaan nou by die kerke begin (1 Petr. 4:17) omdat My boodskappers net louer en louer word (Openb. 3:7-17) en omdat menig nie meer die waarheid preek nie (1 Petr. 2:1-3).

Ek gaan die owerhede nou teen hulle aanhits, sodat hulle nie meer kan sê: “So spreek die Here, Here” nie, en Ek gaan hulle veragtelik en gering maak voor die mense (Mal. 2:7-9 en 17) en hulle uit My mond spuug (Openbaring 3:15-16).
Ek haal nou My ware kinders uit julle kerke en dit sal leegloop (Esg. 34:1-11).

My toorn teen die lou christenmans van Middelburg.

Massas aanbid naweek vir naweek die sportgod, verorber liters en liters drank, vloek, hoereer, kyk pornografie, pleeg owerspel, bid nie meer nie, lees nie Bybel nie, weier om priesters van hulle huise te wees (Hosea 4:6).

Hulle bly saam in hoerery, spot oor die wederkoms (2 Petr. 3:3-4).

Julle gaan nie meer die hoof van julle huise wees nie. Jou vrou gaan oor jou heers en jou kinders gaan ongehoorsaam wees en teen jou opstaan (Matt. 10:21, 2 Tim. 3:2).

Julle bring die modernste tegnologie in julle huise in en bemagtig julle kinders om daarop dag en nag na die vuilste pornografie te kyk. Ek gaan jou kinders se bloed van jou hand eis (Mark. 9:42).

My toorn teen die vroue van Middelburg.

Julle het julle huise verlaat, julle kinders het geen toesig. Hulle hoereer na skool en vakansies sonder ophou in jul huise. Hulle kyk pornografie, raak verslaaf aan dwelms en roep uit: “Mamma help!”

Hulle beland in Denmar, pleeg selfmoord.

Julle kleredrag is uitlokkend, jou reukflessies en towermiddels (Jes. 3:16-23) bedwelm ander vrouens se mans by jou werk, jy gee jou oor in sy arms en sy seksdade.

Duisende huwelike verbrokkel, bloedlynvloeke kom oor die kinders vanweë massas onrein sielsbindinge (1 Kor. 6:16-19).

Ek sal jou skaamte ontbloot en jou in die skande bring om nie meer ’n moeder vir jou kinders te wees nie! (Jes. 3:16-17).

My toorn teen die inwoners van Middelburg.

Julle, die hele gesin, is verslaaf aan selfone. Almal sit vasgekluister voor hul televisiestelle, dit het jul god geword.

Julle gaan ten duurste betaal vir kos, julle teerpaaie gaan slaggate word, julle verkeersligte gaan breek, pale gaan skeef staan, geel en wit strepe op die teer gaan verdwyn. Julle geld gaan deur die owerhede onwys en vir ander doeleindes aangewend word tot julle nadeel.

Omrede Ek die tyd verkort (Matt. 24:22) gaan motoriste heen en weer jaag, net meer en meer ongelukke met soveel smart.
My toorn teen die rykes.

Jy het vanweë die “swartgoud” rondom Middelburg vir jou menig skatte vergader. Jy het die loon van jou arbeiders terug gehou (Jak. 5:1-6).

Julle leef weeldering in groot huise, ry duurste karre, vergryp julle aan swelgerye, terwyl menig van my kinders by verkeersligte en elders krepeer van hongersnood.

Kyk, Ek gaan julle stroop van alles! Julle huise, die grotes en die mooies, gaan Ek toesluit sodat jy daar nie kan ingaan nie (Jes. 5:9, Jes. 24:10).

My toorn teen die boere.

Julle het my stem in die wolke (Job 37:1-6) lankal vergeet, dat Ek alleen die wolke oopsluit vir reën.

Julle vloek, hoereer, drink, vertrou op julself en besoek daagliks die godin van die noodlot (Jes. 65:11-16), die weerburo, om te hoor hoeveel reën op jou plaas gaan val, eerder as om op My te vertrou.

Kyk, Ek verhit die son (Jes. 30:26) en stuur die droogte, die sprinkaan (Joël 1:1-5), die wurm, ja die pes, ook die moordenaar om jou van jou plaas te verdrywe, en gee dit aan ander.

My toorn teen die skole.

Julle het die skole verander in pornografiese instellings en plekke van plesier.

Pornografiese onreinheid en vierletter skaamdeelwoorde is aan die orde van die dag.

Kinders word van kleins af verslaaf aan tegnologie en om die sportgod te aanbid, en word in detail geleer hoe om veilige seks voor die huwelik te beoefen.

Kyk, Ek gaan hulle bloed van julle hande eis, daarom gaan Ek die kinders teen julle oprig en skole onregeerbaar maak, soos reeds in ander lande gebeur.

My toorn teen die hoere van Middelburg.

Ek laat julle toe om te floreer (Spr. 16:4) sodat die mans van Middelburg wat van My af weggehoereer het, deur julle besoedel kan word, en my volle oordeel oor julle en hulle kan kom (Openb. 22:11).

My Woord aan die Observer.

Week vir week, maand vir maand, jaar na jaar, word inligting en waarskuwings deur julle aan die inwoners van Middelburg en die omgewing gerapporteer en uitgebasuin.

Duisende rapporteer nou, “ons wil dit nie meer lees nie, ons wil dit nie meer hoor nie!

Een ding staan vas, julle sal nooit, ooit eendag kan sê, ons het nie geweet nie! Naweek vir naweek pryk die Observer voor jou oë op elke winkeltoonbank.

“Hoor aarde – Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na My het hulle nie geluister nie, en My wet (Bybel) die het hulle verwerp.” (Jer. 6:19).

  AUTHOR
Daleen Naude
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
God loves our town