Kommentaar: As ek sy was…

A recent photo with Sue Howarth during a Sheepdog Trial competition.

Ek sal baie graag elke dag wil skryf oor ’n jong pandabeer ma wat haar doodskrik vir haar eie kleintjie, of ’n dronk Rus wat van sy bed af val.

Maar die realiteit is dat terwyl ek sit en kyk na ’n snaakse video van ’n vet ou wat deur ’n donkie geskop word, met ’n insetsel van ’n baba wat lag aan die einde (die baba wat lag word, tot my groot irritasie, vir een of ander rede deesdae aan al die snaakse videos geheg), is daar êrens iemand wat in rou gedompel is.

Daar is blomme wat groei en voëltjies wat sing, daar is donkies wat vet ouens skop, maar daar is ook ’n baie groot monster wat vanuit die donker loer. En ons mag hom nie ignoreer nie.

Daar gaan kort-kort iemand dood. Iemand wat nie onverskillig of dronk bestuur het nie, wat nie van die honger vergaan of wat nie gewelddadig geleef het sodat jy die live by the gun, die by the gun spreekwoord kan rondgooi nie.

Iemand wat doodeenvoudig vermoor word omdat hulle op ’n plaas bly. Omdat die leuen dat hulle ‘grond gesteel’ en ryk geword het met ‘boelie geld’ oor en oor vertel word, sodat grond en geld gesteel kan word.

Ek sal nou sê wat baie nie wil sê nie. Jy kan my klassifiseer as jy wil, jy kan my oordeel:

As jy kyk na die toestand in die res van Afrika, is die bogstorie dat ‘ons’ ander mense se rykdom gesteel het om “onsself” te verryk, so verregaande mens sou daaroor kon lag, as dit nie gepaard gegaan het met die moord en doodslag wat ons ervaar nie.

En dan sit daar dorpies (soos wat plasies die manne met die sagte handjies wat op ’n erf met gewapende reaksie en alarmsisteme woon, noem) en vertel vir jou riller leuenstories “van boere wat plaaswerkers vashou terwyl hul seuns hul vrouens en dogters verkrag en hoe moordgedagtes en dade dan sekerlik geregverdig is.”

Dit is alles deel van die groot leuen. Om mense lam te lê en om moordadigheid te regverdig.

Hoe durf jy die arme man wat al voorheen by jou geld gesteel het, en nou weer gevang skape steel het, afdank?

Hoekom praat jy hard met die man wat dronk by die werk opdaag? Hoe durf jy dit wat joune is probeer beskerm?

My pa is onlangs met die dood gedreig toe hy ’n sloot oor ’n pad na sy plaas gegrou het. Dit nadat hy toegelaat het dat vragte hout van die plaas af gesteel word en eers die hakskene ingeskop het toe diewe onder sy beeste begin maai het.

Toe moet hy hoor dat die grond nie aan hom behoort nie. Dat hy dit gesteel het, al het hy dit as jong man met sweet en trots en harde werk gekoop. En dat hy nie ’n hart het nie omdat hy nou mense se ‘brood en botter’ (wat tegnies gesproke uit betreding en steel gemaak word) van hulle wegvat. Daarna volg die dreigemente: “Ons sal jou kom dood maak. Ons sal al jou beeste kom steel”.

Op Facebook en WhatsApp kla die mense. Na elke plaasaanval word daar gepraat van ‘die vyand’ en gevra hoe lank die ‘boerevolk’ nou nog gaan stil sit en niks doen nie.

As jy dink dat jou vingertjies wat tik, of jou slim hutstekens (aanhits tekens?) oor plaasaanvalle iets aan die bloedvergieting gaan doen, gee my die oplossing.

En as jy vra, hoe lank gaan boere nog stil sit, wat wil jy graag hê moet hulle doen? Hoe wil jy hê moet hulle beweeg? Boere slaap so te sê met pistole aan hul sy. Veiligheidsmaatreëls is in plek.

Op die ouend is boere net mense wat ’n bestaan wil maak uit die grond. Bedags moet hulle werk, en versigtig wees om nie te lelik met hul plaaswerkers te wees nie en sorg dat hulle betyds betaal word. Snags moet hulle van plaas na plaas jaag, padblokkades opstel, soek na misdadigers en soos opgeleide taakmag polisiemanne in lewensgevaarlike situasies optree.

Boere word nie net fisies nie, maar ook figuurlik geblinddoek en vasgebind. Jy weet nie waar gaan die volgende hou tref nie. Jy weet nie teen wie om te baklei nie. Jy sit en wag en hoop dat as dit jou beurt is, jy gelukkig genoeg gaan wees om met jou lewe daarvan af te kom.

Jy spartel om tussen minimum lone, stygende produksiekostes, diefstal van jou goedere en ’n oorwerkte polisiemag, wat vra vir ‘gemeenskapbetrokkenheid’ die som te laat klop.

Veiligheid is duur. En die mense wat dit aanbied is gou om te vra ‘Hoeveel is jou vrou of kinders se lewens werd’. Dis soos om bloed uit ’n klip te tap.

Al wat aanhoudend by my opkom, al oëverblindende lig aan die einde van hierdie donker tonnel, is dit wat ons al vir generasies deur gedra het: Ons geloof.

Ons durf nie toelaat dat ons deur haat verswelg word nie.

Ons durf nie vergeet waarheen ons op pad is nie of hoekom ons leef nie.

Ons durf nie vrees nie, al gaan ons deur ’n dal van doodskaduwee.

Almal van een ras is nie sleg nie. Dit geld vir wit en swart. Ek sal nie ’n rassis word nie, al moes ek staan en toekyk hoe ’n emosionele vrou tevergeefs woorde van troos in haar sterwende vriendin se oor fluister, nadat sy deur aanvallers in die kop geskiet is.

Ek kyk na ’n onderhoud op eNCA met ’n 18-jarige meisie wie se ouers en grootouers op Balfour vermoor is. Een van die vrae is: ‘Wat sou jy vir jou ouers se moordenaars wou sê?’ Sy sê sy sou wou weet hoekom hulle dit gedoen het.

As ek sy was sou ek sê: “We are not afraid of you. We will testify the love of our Living God trough the lives we lead. You cannot destroy us.”

Read other news here:

Update: Dullstroom farm attack victim dies in hospital

“Don’t be afraid my darling…” – The horror of a farm attack

Vrou in koma na Dullstroom aanval

Plaasaanval bakkie gevind

Nuusflits: “Belfast inwoner dood na beweerde gesinsgeweld

Weather for the weekend

Vrou met dood gedreig

Pa en seun oorleef ongeluk

Gepeupelreg lei tot moord

 

  AUTHOR
Jana Boshoff
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Krok kuier by woonstelle