Foto’s: Die vrou aan die boom, die pyl en boog en die onthou…

Daar was hoendervleis, daar was trane én daar was baie onthou. Witbank en Middelburg polisiemanne van die tagtigerjare het die naweek by Olifants River Lodge bymekaar gekom, vir ’n reünie.

Die legendariese Van Dyk Kruger onder wie Piet Beyleveld by Brixton Moord en Roof gewerk het was daar, die gerespekteerde brigadier Charles Bloem, die Etsebeth boeties: Fanie, Piet en Tonie, baasspeurders Dries Bezuidenhout en Johan Prinsloo, Izak Potgieter, Christo Ackerman wat vir die Pumas uitgedraf het, Giel van Antwerpen wat vir Suidoos-Transvaal gespeel het, Chris Gatzonis, Louis Steenkamp, Callie Niemann, Jurie Viviers, Pieter en Rita Taljaard…

Daar was konstabel Henk Holtzhauzen.

Het saam met Henk hof-hof gespeel.

Daardie jare het die hof stiptelik om nege uur begin, half elf was dit teetyd, elfuur was die landdros terug op die bank.

Aanklaer Leon van den Berg het dit eenkeer gewaag om vyf minute na nege te begin. Hy is sleg uitgetrap deur die landdros.

Wanneer die hof half elf verdaag het, het die twee hofordonnanse en ek elkeen ’n toga gegryp en is daar gestry wie gaan die landdros wees en wie die prokureur.

Totdat die jong polisiemanne eendag besluit het die koerantman is te windgat – hy is met ’n 9 mm teen die kop al spartelende in die hofselle toegesluit.

Dit was lank terug, baie lank terug, veertig jaar gelede.

Dan was daar Piet Etsebeth. Piet wat in die Mothklub, waar jy altyd saam met die polisiemanne gekuier het, eenkant stil en alleen aan sy sigaretjie geteug het.

Piet wat altyd reg was met ’n scoop.

Die vrou wat vanaf Hendrina geryloop het en in ’n bloekombos by Paxton aan ’n boom vasgemaak is nadat sy ontvoer is. Sy is daar dood gekry.

Piet wat haar moordenaars aangekeer het.

En die man wat met pyl en boog deur die rug geskiet is. Sy liegstorie dat hy langs die pad gestop het om homsef te verlig. Sy skelm vry in die bos en ’n oerman wat hom deur die rug geskiet het met sy selfgemaakte pyl en boog. Piet wat die waarheid uitgedelf het.

Piet wat Dinsdae geduldig vir jou deur die misdaadregister gesoek het vir stories.

Johan Prinsloo, Dries Bezuidenhout en ek. Dit was die jaar 1980. Ons drie het in Damanhof woonstelle gebly. Al drie het Datsuns gery… “we had joy, we had fun, we had seasons in the sun…”

Van Dyk Kruger en sy span wat misdaad en dwelms op Middelburg en Witbank uitgeroei het.

Die Middelburg Observer het daaroor berig en die opskrif was: “Die A-span roei misdaad uit”.

Hy het Saterdagaand kort-kort laat hoor: “Hier kom die A-span nou verby!”

In die saal was daar honderde jare se ervaring saamgetrek.

Ervaring wat misdaad in die land bloedneus sal gee.

Maar nou is hulle net daar vir onthou… en misdaad floreer.

  AUTHOR
Tobie van den Bergh
Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Foto’s: Met wapen in gesig geslaan