Hael breek meer as 400 vensters by skool
Die geweldige haelstorm met gholfbalgrootte haelkorrels wat Middelburg Vrydag getref het, word as “’n ramp binne ’n ramp” beskryf.

En dit kon nie op ’n moeiliker tyd as nou in die 21 dae afsondering gebeur het nie.
Buiten huise se vensters wat flenters geslaan is, het skole ook deurgeloop.
•By Hoërskool Middelburg is meer as 400 vensters stukkend geslaan. Die skool se hoof, mnr. Johan Stronkhorst, sê terwyl hy geskarrel het om sy voertuie uit die storm te kry, moes hy toekyk hoe duiwe in die lug doodgeslaan word. Na die storm was die hele terrein vol dooie duiwe, takke en blare.
Buiten die vensters wat stukkend geslaan is, is drie dakke beskadig en twee plafonne het inmekaar gesak.
•Die MHS Plaas het ook deurgeloop en daar is meer as 100 vensters stukkend geslaan en die groente heeltemal weg geslaan. “Die mielies se koppe is darem redelik groot, so ons behoort ’n oes te hê,” sê mnr. Stronkhorst.
Sy eie voertuie het ook skade opgedoen.

•Sy dogter, Johandré, ’n apteker, het ook massiewe skade aan haar splinternuwe karretjie. “As ek sê daar is 2 000 duike op haar kar, is dit min.”
•Daar is verneem dat talle vensters stukkend geslaan is by Laerskool Kanonkop en by die NG Kerk, Kanonkop gemeente.
Die hele dorp het deurgeloop.
•Mnr. Charles Hammilton, van Kanonkop, sê ’n boom het tydens die haelstorm op sy huis se dak geval en groot skade veroorsaak.
•Mnr. Carel Jonker, eienaar van Konings Pandwinkel (hoek van Cowen Ntuli- en Rivierstraat), vertel dat die hael op die dak saamgepak het, wat veroorsaak het dat die water in die plafon ingestroom en die plafonne laat instort het.
Al die water het in die winkel ingeloop en geweldige skade aan van die voorraad aangerig.
Drie van sy voertuie, wat buite die winkel gestaan het, is ook flenters geslaan.
•Die swemafrigter van [email protected], Jana Grobler en haar man, Kobus, moes magteloos deur hul kombuisvenster toekyk hoe die spesiale polikarbonaatdak (sterk tipe veselglas) bokant die swembad aan flarde geslaan word. Die sonpanele is ook vernietig.

“Die gholfbal haelkorrels het skerp punte gehad en alles stukkend geslaan.”
Hulle is dankbaar dat hulle swembad ’n seil opgehad het en daar het gelukkig niks van die stukke in die water self beland nie.
“Dit was ’n vreemde storm. Daar was ’n geluid soos dié van ’n helikopter wat opstyg en die volgende oomblik het die hael begin val. Ek het gedink dit is oordeelsdag!”
•By Kanonkop Superspar het hulle dakskade en het ’n paar voertuie skade opgedoen.
•Alhoewel die Steve Tshwete Munisipaliteit toestemming gegee het dat drie hardeware winkels hul deure Saterdag kon oopmaak vir sake, is daar nog talle mense wat wag dat hulle gebreekte huisvensters en dakke reggemaak moet word.
•Lede van die verkeersdepartement het Sondag beslag gelê op mnr. Jaco Brits (van HMJ Glassworx) se voertuig, omdat hy een te veel persoon agter op sy bakkie gehad het.

“Hulle het die regulasies vir my uitgespel en ek verstaan dit. Die probleem is net, nou kan ek nie vinnig by kliënte uitkom om hul gebreekte vensters reg te maak nie en hulle begin ongeduldig raak…”
Daar is vir hom gesê dat hy nie ag geslaan het op al die reëls nie. Daar mag net twee persone in die voertuig gewees het en net een persoon mag agterop ry.
As hy byvoorbeeld ’n vrag met glas of ander toerusting op die bakkie gehad het, mag hy ook niemand saam met die vrag agterop gehad het nie.
“Waar dit my twee tot drie dae sou gevat het om ons dorp se mense te help, gaan ek nie klaarkry voor moontlik oor twee weke nie, omdat dit so lank gaan vat om mense en toerusting heen en weer te ry. Buiten dat die mense ongeduldig is, en ek verstaan dit, moet ek ook nou my werkers en my familie langer aan hierdie virus blootstel!”
Hy is van Vrydag af gevra om ten minste 30 huise en nog vele ander besighede, soos die Middelburg Observer se 71 gebreekte vensters, reg te maak.
“Ek het al drie ton stopverf (putty) en 11 ton glas van Saterdag af gebruik.”

Mnr. Brits sê dan praat hy nie eers van die windskermskade nie. Hy kan nie nou help daarmee nie, aangesien hulle wag vir aflewerings vanaf hulle verskaffers.
Hy was baie trots op sy personeelspan, wat te midde van hierdie krisis in ons land, bereid is om saam met hom te werk om die gemeenskap te help.
Buiten die spanne wat daagliks saambeweeg om te help met herstelwerk, het een van sy administratiewe personeellede, Anastasia Zibarras self ook ingespring.
•Mnr, Freddie de Beer (van Alucon) sê hulle is ook oorval deur mense wat huisvensters en windskerms wil laat regmaak.
Ook hy is Saterdag gestop deur die polisie om sy permit te wys en is aangespreek omdat die werker voor by hom gesit het. Hy stem egter saam dat die polisie net hul werk doen.
•Makelaars moes honderde oproepe hanteer van Middelburgers wat wil eis vir haelskade op hul karre en huise.
•Weens die hoë volumes oproepe wat die munisipaliteit se elektriese afdeling se landlyn ontvang het vanaf die begin van 21 dae afsonderingsperiode en ook toegeneem het na die haelstorm, is daar ’n selnommer beskikbaar.
Hierdie nommer, 060 355 1486, is slegs beskikbaar om te rapporteer wanneer krag af is.
Stuur ’n sms met jou volle name en van, straatadres en uitbreiding en hulle sal so gou as moontlik aandag aan die kragprobleem gee.
