My Beurt: Annie van Zyl

Zumpies (soos Dowwe Dolla hom gedoop het) staan natuurlik voor in die koor as die hooftiener met sy roekelose besluite wat kenmerkend is van onkundige, rebelse tienergedrag.

Maar mens kan hom seker nie blameer nie, aangesien hy nooit deur sy hoërskoolfase gegaan het nie…

Nietemin, niemand (nie eers Zumpies nie) kan lewensfases promoveer nie en hopelik haal dit hom binne die volgende paar maande in.

Hy staan nou, soos elke tiener, op die rand van ‘n groot besluit wat die res van sy lewe sal beïnvloed: sy loopbaankeuse.

As hoofseun het hy gefaal deur sy gewildheid bo sy plig te stel en bendes aan te moedig om blompotte te breek, prentjies te brand, skole te verwoes en gedurig kleur uit te wys.

Leierskap sal dus beslis nie op sy CV verskyn nie.

Maar wat sal dan?

Hy kan darem goed met (ander mense se) geld werk…

Hy belê immers in eiendom en spandeer sy sakgeld (a.k.a. jou belastinggeld) aan opgraderings en verbeterings.

Gepraat van sakgeld.

Is dit nie tyd om vir Zumpies, soos enige ander tiener, te straf vir sy optrede nie?

Tipies tiener, vra hy bloot om verskoning en aanvaar nie verantwoordelikheid nie, maar verwag dat alles vergewe en vergeet sal word.

Ons moet egter goeie ouers wees wat eerder raad en oplossings bied as om na die geriefliker, makliker, dwaser, EFF-tipe opsie van lyfstraf te gryp.

Een oplossing is om, soos ‘n stoute tiener gestraf sou word, sy sakgeldjies van hom te weerhou.

Los ons dit maar vir P(r)a(vin) of Ma(donsela) of moet ons maar self ingryp en belasting ontduik?

Ek dink wel al wat ontduik gaan word, is die klagtes teen Zumpies – soveel dat hy dit nie eers kan uitspreek nie…

Maar wat ook al Zumpies besluit om te doen, moet net nie toelaat dat hy, soos talle tieners maar maak, ‘n wig tussen jou en jou eggenoot (in dié geval jou medelandsburgers) indryf nie.

Ons mag nie toelaat dat ras ons definieer en rassisme weer wen nie.

‘n Handjie vol onkundige kwaadstokers se stem mag nie harder word as die meerderheid Suid-Afrikaners wat in vrede wil saamleef nie.

Dit is jou verantwoordelikheid om op te staan teen rassisme en nie langer stil te bly as iemand praat van ‘swartes’ of ‘wittes’ of ‘ons’ en ‘hulle’ of die gevreesde K-woord uiter sonder om te blik of te bloos nie.

So, maak oop jou bek teen enige iemand wat jou om die bos wil lei en rassehaat verkondig.

Amandla! Awethu!

  AUTHOR
Annie van Zyl

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Severe weather conditions the new norm