Die ouma en die kansvatter

‘n Familie (wat verkies om anoniem te bly) soek antwoorde nadat hulle uitgevind het dat hul bejaarde ma, wat ouer is as 80 jaar, deur ‘n 48-jarige man mislei word.

Sy verkoop produkte vir ‘n ekstra inkomste en het nog altyd alles vir haarself gedoen, maar die laaste ruk gaan dit broekskeur.

“Sy was skielik broke en toe ons haar daaroor uitvra, het sy net gesê dat sy ‘n bietjie te veel geld op haarself spandeer het.”

Een van die kleinkinders het haar ouma se selfoon in die hande gekry en ingegaan op haar boodskappe.

Sy het haar boeglam geskrik toe sy agterkom haar ouma gesels met die man (‘n bekende op die dorp).

Hy het haar troetelnaampies genoem en op ‘n baie onvleiende manier melding gemaak van sy eie vrou.

Die man het onder andere gesê dat hy net by sy vrou bly “ter wille van die kinders.” Sy kinders is egter reeds uit die huis.

Wat hulle die kwaadste maak, is dat hy in verskillende WhatsApp boodskappe bedrae genoem het wat hy kwansuis sou terugbetaal. Bedrae van tot R4 000 is genoem.

Hy het gevra dat sy haar nuwe selfoon vir hom moet leen, want sy eie is stukkend.

“Hy het op haar gevoel gespeel, want hy het tot haar vertel sy kar is stukkend.” Die boodskap het as volg gelui: “My kar is m…rtoe. Dis nie iets wat voorval nie. Krisis vir my. Niks met voorval te doen nie.”

Dit was duidelik dat die ouma reeds die gelde oorbetaal het, aangesien sy nie meer enige fondse beskikbaar gehad het nie.

Die familie het iemand gevra om die saak te ondersoek en ook die man te konfronteer.

“Hy het begin huil toe hy gekonfronteer word, want hy wou nie hê sy vrou moes uitvind nie.”

Op die vraag hoeveel geld hy al by die vrou ‘geleen’ het, het hy erken dat dit meer as R20 000 was!

Hy het ook gebieg dat hy “iets” gekoop het op haar apteekrekening, maar die bejaarde vrou het nié ‘n apteekrekening nie! Dit het hulle dadelik laat besef dat daar ‘n ander vrou in die prentjie is en dat hy dalk deurmekaar geraak het met die twee.

Hy het onderneem om die geld terug te betaal, maar teen druktyd was daar nog geen oorbetalings gemaak nie.

Lees ook: Supervisor murdered

Interpreter kidnapped, murdered

Body found one week after accident

• Die familie het gevra dat die koerant die storie moet publiseer met die hoop dat nóg vroue wat deur hom ingeloop het, na vore kom. “As hy dit so maklik kon regkry met één weerlose bejaarde vrou, hoekom nie met ander vroue ook nie?”

•Die Middelburg Observer het voorheen oor die man berig, wat inwoners duisende rande skuld vir huurgeld.

  AUTHOR
Daleen Naude
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Boogskiet die naweek